Tydskrif van Suid Afrikaanse Reg

Publisher:
Juta Journals
Publication date:
2021-07-05
ISBN:
0257-7747

Description:

This multilingual periodical is published quarterly by Juta for the Faculty of Law, University of Johannesburg. This scholarly and practical journal covers a broad spectrum of topics pertinent to the legal community.

Issue Number

Latest documents

  • The Relationship Between Principal and Candidate Attorney: An Ethical and Legal Framework for the Duty of Supervision

    DIE PRINSIPAAL-EN-KANDIDAATPROKUREURSVERHOUDING: 'N ETIESE-EN REGSRAAMWERK VIR DIE TOESIGSPLIGKandidaatprokureurs bevind hulself in 'n moeilike posisie. Aan die een kant is kandidaatprokureurs afhanklik van hul beroepsopleidingskontrak en voortgesette diens om toegang tot die regsberoep te verkry, terwyl hulle aan die ander kant dikwels die skuld kry vir sake wat verkeerd loop. Dit is dikwels die gevolg van professionele verwaarlosing in die vorm van die gebrek aan behoorlike toesig. In sekere opsigte het kandidaatprokureurs die sondebokke geword vir tekortkominge van hul prinsipale en regsfirmas. Dit is teen hierdie agtergrond dat hierdie artikel die plig van toesighouding tussen 'n prinsipaal en 'n kandidaatprokureur ondersoek.Die presiese omvang van die plig tot toesig is nie altyd duidelik omskryf nie en min is al gesê oor welke regte of remedies 'n kandidaatprokureur sou hê (indien enige) in die geval van 'n prinsipaal se versuim om behoorlike toesig te verskaf. Die plig van toesighouding word beoordeel in die konteks van etiese-, professionele-, kontraktueleen arbeidsregtelike pligte. In die konteks van etiese en professionele pligte is die plig van toesighouding nie duidelik omskryf in die Suid-Afrikaanse konteks wat geen tasbare vereistes van 'n prinsipaal in die konteks van hul toesighoudende pligte voorsien nie (dit is wel anders in jurisdiksies soos Australië, Engeland en Ierland). In die konteks van kontraktuele pligte word 'n prinsipaal se pligte vaagweg beskryf binne die standaard beroepsopleidingskontrak.Vae terminologie soos "beste pogings" word gebruik wat effektief kontraktuele remedies verwyder. Ander jurisdiksies, soos Engeland en Ierland, verskaf omvattende pligte en duidelike riglyne in verband met die verwagte opleiding en toesig van 'n prinsipaal. In die konteks van arbeidsreg bevat die onderliggende diensverhouding tussen die prinsipaal en kandidaatprokureur die normale arbeidsremedies. Die Wet op Arbeidsverhoudinge 66 van 1995 en die Wet op Beskermde Bekendmakings 26 van 2000, beskerm die kandidaatprokureur teen openbaarmakings rakende 'n onvoldoende vlak van opleiding en toesig wat gelei het tot die ontslag van die kandidaatprokureur. Nietemin kan 'n kandidaatprokureur nie as 'n passiewe deelnemer in hul beroepsopleidingskontrak funksioneer nie. Indien 'n kandidaatprokureur nie 'n taak kan verrig nie, is daar beslis 'n plig om dit onder hul prinsipaal se aandag te bring. Die verhouding tussen 'n prinsipaal en die kandidaatprokureur is nie eensydig nie. Vir 'n beroepsopleidingskontrak om suksesvol te wees, moet beide die prinsipaal en die kandidaatprokureur hul onderskeie rolle speel.

  • The Sequestration and Possible Rehabilitation of a Trust in South African Law – A Critical Analysis of Conradie v Master of the High Court: Kimberley (1260/2006) 2008 ZANCHC 50 (13 June 2008)

    DIE SEKWESTRASIE EN MOONTLIKE REHABILITASIE VAN 'N TRUST IN DIE SUID-AFRIKAANSE REG – 'N KRITIESE ONTLEDING VAN CONRADIE v MASTER OF THE HIGH COURT: KIMBERLEY (1260/2006) 2008 ZANCHC 50 (13 JUNIE 2008)Dit is geyk dat insolvente trusts, beide testamentêr en inter vivos , gesekwestreer word ingevolge die Insolvensiewet 24 van 1936 en nie gelikwideer word ingevolge die bepalings van die Maatskappywet 61 van 1973 nie. Daar is egter nie eenstemmigheid oor of 'n gesekwestreerde trust wel gerehabiliteer kan word nie. In weerwil van akademiese kommentaar tot die teendeel, het die Noord-Kaapse hooggeregshof in Conradie v Master of the High Court: Kimberley beslis dat 'n trust wat gesekwestreer is, wél vatbaar is vir rehabilitasie.Hierdie bydrae ondersoek dié teenstrydige sieninge rakende die rehabilitasie van 'n trust en die gevolgtrekking word bereik dat, weens die besondere aard van die trust in Suid-Afrika, 'n trust nie vatbaar is vir rehabilitasie is nie.Na aanleiding van 'n kritiese analise van die kommentaar deur die Franse akademikus, Lepaulle, word daarop ag geslaan dat die trust in Suid-Afrika gekonsepsualiseer word as 'n boedel. Oorweging van regspraak insake die insolvensiereg wys daarop dat daar 'n onderskeid getref word tussen 'n "insolvent" en die "insolvente boedel". Die insolvent verwys na die persoon wie se boedel gesekwestreer word en dit is nie die insolvent wat gesekwestreer word nie, maar wel die insolvent se boedel. 'n Gevolg van sekwestrasie is dat die insolvente boedel voortaan vestig in 'n trustee, gemagtig deur die meester, en dat die regstatus van die persoon wie se boedel gesekwestreer is verander na dié van 'n "insolvent". Alhoewel 'n insolvent onmiddellik 'n nuwe boedel bekom, is sy vermoë om daarmee te handel beperk gegewe sy status as insolvent. 'n Insolvent se status word gerehabiliteer óf deur die verloop van tyd ingevolge die bepalings van die Insolvensiewet, óf by wyse van 'n hofbevel. So 'n rehabilitasie het egter nie tot gevolg dat die gesekwestreerde boedel voortaan in die voormalige insolvent vestig nie, maar eerder dat die voormalige insolvent onbelemmerd met die nuwe boedel kan handel. Dit is juis hierdie onderskeid tussen "insolvent" en "insolvente boedel" wat verklaar waarom 'n trust nie vatbaar is vir rehabilitasie nie. Aangesien 'n trust gekonsepsualiseer word as 'n boedel, en aangesien 'n gesekwestreerde boedel nie gerehabiliteer word nie, volg dit dat trusts ook nie gerehabiliteer kan word nie.Hierdie bydrae ondersoek 'n verdere vraag: indien 'n trustboedel nie vatbaar is vir rehabilitasie nie, kan die amp van trusteeskap gerehabiliteer word?Om hierdie vraag te beantwoord word die wisselwerking tussen die amp van trusteeskap en die trustboedel ondersoek en daar word aan die hand gedoen dat die amp van trusteeskap nie onafhanklik van die trustboedel kan bestaan nie. Trustees word aangestel ten opsigte van 'n spesifieke trustboedel en regverdig nie 'n onafhanklike bestaansreg nie. Gevolglik, sal die amp van trusteeskap ook beëindig word sodra die trustboedel afgehandel is, en kan daar nie sprake wees van die rehabilitasie van die amp van trusteeskap nie.

  • Regulating Company Phoenix Activity: Is There a Case for Introducing Successor Liability into South Africa?

    REGULERING VAN MAATSKAPPYE SE FENIKSBEDRYWIGHEDE: IS DAAR 'N SAAK UIT TE MAAK VIR DIE INVOER VAN OPVOLGERSAANSPREEKLIKHEID IN SUID-AFRIKA?Hierdie artikel oorweeg of die Amerikaanse konsep van opvolgersaanspreeklikheid in Suid-Afrika oorgeneem behoort te word as 'n remedie vir skuldeisers wat onbetaald bly as gevolg van feniksbedrywighede – die vervanging van een maatskappy deur 'n tweede maatskappy wat in wese dieselfde besigheid bedryf en wat basies dieselfde beheerders as die eerste maatskappy het. Die outeurs het voorheen aangetoon dat bepalings gerig op die bedrieglike of roekelose dryf van besigheid ontoereikend is om die korporatiewe feniksprobleem aan te spreek, veral ten opsigte van siviele aanspreeklikheid. Aangesien opvolgersaanspreeklikheid juis siviele aanspreeklikheid daarstel, oorweeg hul nou of die bestaande remedies aangevul behoort te word deur Amerikaanse-styl opvolgersaanspreeklikheid. Opvolgersaanspreeklikheid kom ter sprake in situasies waar 'n maatskappy se besigheid of bates oorgedra word na 'n ander maatskappy.Daar is vier gevalle waar die verpligtinge van een maatskappy teen 'n sogenaamde opvolgermaatskappy afgedwing kan word: (1) waar die verkoper die transaksie aangaan met die bedrieglike bedoeling om sy skulde te ontduik; (2) waar die verkrygende maatskappy uitdruklik of implisiet instem om die verkoper se verpligtinge oor te neem; (3) waar die transaksie neerkom op 'n de facto konsolidasie of samesmelting van die twee maatskappye; (4) waar die verkrygende maatskappy bloot 'n voortsetting van die oordraggewende maatskappy is.Hierdie gevalle geld as uitsonderings op die algemene beginsel dat 'n oordragnemer of koper nie aanspreeklik is vir die verpligtinge van die oordraggewer of verkoper nie. Elkeen van hierdie uitsonderings kan toepassing vind ten opsigte van feniksbedrywighede. Aangesien 'n onwettige fenikstransaksie gekenmerk word deur die mala fide bedoeling om skulde te ontduik, blyk die bedrogof bedrieglike oordrag-uitsondering die mees relevante te wees. Dit vereis egter bewys van 'n bedrieglike bedoeling wat die toepassing daarvan beperk. In teenstelling hiermee is die de facto-samesmeltingen blote voortsettingsuitsonderings gebaseer op objektiewe aanwysers. In baie onwettige fenikstransaksies sal die oordrag van die besigheid van die ou maatskappy na die nuwe maatskappy objektiewe faktore behels wat toon dat daar 'n de facto-samesmelting was of dat daar 'n blote voortsetting van die besigheid in die nuwe maatskappy is. Die ooreengekome aanvaarding van verpligtinge-uitsondering word as die mees onwaarskynlike toepassing beskou omdat die doel gewoonlik juis is om verpligtinge in die ou maatskappy agter te laat.Die konsep van opvolgersaanspreeklikheid is nie totaal onbekend aan die Suid-Afrikaanse reg nie. Dit bestaan byvoorbeeld in belastingwetgewing asook in die Wet op Arbeidsverhoudinge se bepalings oor die oordrag van ondernemings. Die outeurs stel voor dat opvolgersaanspreeklikheid deur wetgewing ingevoer moet word in Suid-Afrika ten einde die nadelige impak van onwettige feniksaktiwiteit te beperk. Hoewel die beleidsoorwegings wat die Tax Administration Act en die Wet op Arbeidsverhoudinge onderlê verskil van dié wat oorweeg sou word ten opsigte van skuldeisers in die algemeen, kan die bepalings van hierdie wetgewing moontlik aangepas word vir wyer toepaslikheid. Die instelling van opvolgersaanspreeklikheid kan die behoefte aan 'n effektiewe siviele remedie vir onbetaalde feniks-slagoffers aanspreek.

  • Judicature: A Necessary Reform of Copyright Law, but did the Constitutional Court Overreach?

    ’N NOODSAAKLIKE HERVORMING VAN KOPIEREG, MAAR HET DIE KONSTITUSIONELE HOF TÉ VER GEGAAN?Na ’n onbetwiste aansoek deur die nie-regeringsorganisasie Blind SA, het die konstitusionele hof beveel dat persone met gestremdhede toegang tot werke onderworpe aan kopiereg verleen word deurdat die kopiereguitsondering in artikel 19D in die Wysigingswetsontwerp op Outeursreg, B13F van 2017, in die Wet op Outeursreg 98 van 1978, ingelees moet word tot tyd en wyl die wet gewysig word om sy ongrondwetlikheid bevind in Blind SA v Minister of Trade, Industry and Competition ((CCT 320/21) 2022 ZACC 33 (21 Sept 2022)) aan te spreek. Intussen was verskeie ander bepalings van die wetsontwerp voor die hof na ’n verwysing deur die president ingevolge artikel 79(4) van die grondwet oor besorgdhede oor hul grondwetlikheid. Die hof het sy bevel motiveer op grond daarvan dat die parlement reeds artikel 19D aangeneem het en dat dit Suid-Afrika in ’n voordelige posisie sou plaas indien die land sou toetree tot die Verdrag van Marrakesj tot bevordering van die toegang tot gepubliseerde werke vir persone wat blind of visueel gestremd is of andersins ’n leesgestremdheid het.Alhoewel daar geen dispuut is oor die noodsaaklikheid van hierdie hervorming nie, is die bevinding van ongrondwetlikheid in die Blind SA-saak van krag, en in die onderhawige saak het die hof se inlees van ’n uitsondering teen ’n reël wat in effek nie meer bestaan nie, ’n anomalie tot gevolg. Verder oorskry die bepalings van artikel 19D die vereistes en toegewings vervat in die Verdrag van Marrakesj.Indien die hof die ander bepalings in die wetsontwerp ongrondwetlik sou bevind, sal die wetsontwerp na die parlement teruggestuur word, wat hierdie anomaliese situasie sal laat voortduur. Die uitvoerende gesag moet die proses dat Suid-Afrika tot die Verdrag van Marrakesj toetree, aan die gang sit en, indien die wetsontwerp wel na die parlement terugverwys word, moet dit ’n nuwe wetsontwerp by die parlement indien om die uitsondering te skep wat aan die vereistes van die Verdrag van Marrakesj voldoen.

  • Analysing Computer-Generated Works in South African Copyright Law in the Age of Artificial Intelligence

    ANALISE VAN REKENAARGEGENEREERDE WERKE IN SUID-AFRIKAANSE OUTEURSREGWETGEWING IN DIE ERA VAN KUNSMATIGE INTELLIGENSIEDie afgelope paar jaar het 'n beduidende toename in toegang tot, en ontwikkeling in, generatiewe kunsmatige intelligensie-tegnologieë gesien. Om teks te genereer met behulp van sogenaamde "groot taalmodelle", of beelde te skep deur teks-na-beeld-generators, het die algemene publiek nie veel meer as 'n internetverbinding nodig nie. Die gegenereerde teks kan soms van 'n hoër standaard wees, en die kunswerke is fyn afgewerk, wat hulle byna ononderskeibaar maak van dié wat deur mense geproduseer word, en skynbaar die vaardighede en tegnieke wat uniek is aan mense naboots. Dit is nie verbasend dat vrae oor hul status onder outeursregwetgewing ontstaan nie.Terwyl die onderwerp van outeursreg in kunsmatige intelligensie-gegenereerde inhoud wêreldwyd oorweeg word, is min deur Suid-Afrikaanse beleidmakers gesê. Dit is nie duidelik of Suid-Afrikaanse outeursregwetgewing hierdie werke kan, of moet, beskerm nie. Hierdie artikel poog om daardie vraag te oorweeg in die lig van bestaande outeursregbepalings in die Suid-Afrikaanse Wet op Outeursreg 98 van 1978. Suid-Afrika het histories op Engelse reg gesteun waar sy eie reg nie voldoende is nie. Die Verenigde Koninkryk het voorgestel dat kunsmatige intelligensie-gegenereerde werke in hul wet op outeursreg, ontwerpe en patente van 1988 onder die kategorie van "rekenaargegenereerde werke" beskerm kan word. Die Suid-Afrikaanse Wet op Outeursreg bevat 'n soortgelyke bepaling, met verwysing na hierdie werke in paragraaf (h) van die definisie van "outeur".Die outeurs oorweeg in hierdie artikel of kunsmatige intelligensie-gegenereerde inhoud deur outeursreg in Suid-Afrika as 'n "rekenaargegenereerde werk" beskerm kan word. Indien dit nie as sodanig beskerm word nie, is die vraag of dit nog steeds deur outeursreg beskerm behoort te word. Die outeurs oorweeg die effek van paragraaf (h) van die definisie van "outeur" in artikel 1 van die Wet op Outeursreg. Daardeur ontleed hulle die posisie ingevolge die Engelse reg, waaruit paragraaf (h) oorgeneem is, en poog om die konsepte van rekenaargegenereerde werke en rekenaargesteunde werke te verduidelik. Die kern van hierdie kwessie is die betekenis van 'n "rekenaargegenereerde werk".Daar was inkonsekwentheid in die definiëring en toepassing van die "rekenaargegenereerde werke"-bepaling, wat dit moeilik maak om te peil of sowel die Engelse as die Suid-Afrikaanse wetgewers wel van plan was om werke te beskerm wat sonder enige wesenlike menslike bydrae geskep is. Of hierdie kategorie van "rekenaargegenereerde werke" inhoud insluit wat met kunsmatige intelligensie geskep is of nie, vereis beide 'n historiese oorweging sowel as 'n vooruitdenkende perspektief van die implikasies van die beskerming van hierdie kunsmatige intelligensie-gegenereerde werke, wat teen die basiese beginsels van outeursreg ontleed moet word.Om die vraag te antwoord, moet die regverdiging vir outeursregbeskerming oorweeg word, en daar moet oorweeg word of die rasionaal vir outeursreg die werke kan akkommodeer wat nie meer die produk van menslike outeurskap is nie. Verder word gevra of die era van kunsmatige intelligensiegegenereerde inhoud vereis dat die grondslae van outeursreg hersien en hervorm word om werke te beskerm wat hoofsaaklik die gevolg is van finansiële uitgawes, wat die onderskeid tussen outeursregte en entrepreneursregte laat vervaag.

  • Die Stand van Afrikaans in Ons Regswese in Historiese Perspektief en 'n Vooruitskouing

    THE STATE OF AFRIKAANS IN OUR ADMINISTRATION OF JUSTICE IN HISTORICAL PERSPECTIVE AND THE SHAPE OF THINGS TO COME8 May 2025 marks the centenary of the recognition of Afrikaans as an official language. Notwithstanding all the celebrations commemorating this event, the present position of Afrikaans can be regarded as precarious. This tendency is incidental to the political development of our subcontinent and the historical handicap experienced by the majority of the population in South Africa before 1994.In this historical review an account is provided of the legal language in sway during subsequent periods since the establishment of the first European settlement at the Cape of Good Hope in 1652, up to the present. This survey first touches upon the position regarding the official language and, more specifically, the judicial means of communication in each era, and then covers the status of Afrikaans as a language of tuition. Regarding the first theme, the following periods are subjected to scrutiny: (i) the mainly Dutch East India era: 1652-1806; (ii) the position in the Cape since 1806 and Natal since 1843; (iii) the position in the Boer republics; (iv) the period after the Second Anglo-Boer War: 1902- 1910; and (v) the period after Unification: 1910 to the present. Thereafter the emergence of Afrikaans as a language of tuition is evaluated.In the second part of the article dealing with the continued viability of Afrikaans as an official language and language of record, as well as a medium of tuition, the main reasons for the decline of Afrikaans are addressed and evaluated. The establishment of 11 official languages in our constitution and the decree in terms of which Mogoeng CJ declared English as the only official language of record in 2017 are identified as the main reasons for the decline of Afrikaans as a means of communication in legal practice. The abolition of Afrikaans as language of tuition at all previously Afrikaans tertiary institutions – with concomitant effects such as the reluctance of publishers to continue producing Afrikaans textbooks and academics' preference for publishing in English in order to gain a good rating from the National Research Foundation (NRF) – is identified as a crucial debilitating factor for Afrikaans as a medium of tuition.It is suggested that Afrikaans may still survive as a medium of communication in the legal sphere if the method of the Canadian supreme court of writing judgments in two columns (English and French) is followed. This method has recently found favour in judgments of our supreme court of appeal (English and Xhosa) and constitutional court (English and Afrikaans). This strategy is particularly commendable, because it represents a "practical and positive" measure as determined by section 6(2) of the constitution, which recognises the historically diminished use and status of our indigenous languages and mandates the state to take practical and positive measures to elevate their status and advance their use. Although the future of Afrikaans is ultimately dependent on the loyalty of its speakers towards the language in which they were brought up, its continued existence is bolstered by the fact that there are still numerous Afrikaans legal firms conducting their day-to-day business in Afrikaans, while the possibility of financial inputs by Afrikaans capital may present additional support for enhancing the relevance of Afrikaans as a language of record.

  • Towards Repair? Incoherences in the Societies for the Prevention of Cruelty to Animals Act and the Need for Legislative Reform

    OP PAD NA HERSTEL? DIE ONSAMEHANGENDHEID VAN DIE WET OP DIEREBESKERMINGSVERENIGINGS EN DIE BEHOEFTE AAN WETGEWENDE HERVORMINGHierdie artikel spreek 'n onontginde tema in akademiese literatuur aan rakende die ontwerp van strukture om diere te beskerm. Suid-Afrika het 'n ongewone wet, naamlik die Wet op Dierebeskermingsverenigings 169 van 1993, wat 'n regspersoon stig wat bekend staan as die Nasionale Raad van Dierebeskermingsverenigings. Deur sommige parlementêre debatte rondom hierdie wetgewing, sowel as die bepalings daarvan te ondersoek, argumenteer ek dat die wet verskeie teenstrydighede rakende die aard, rol en befondsing van die Nasionale Raad van Dierebeskermingsverenigings bevat.In die besonder argumenteer ek dat die wet (saam met die grondwet van die Nasionale Raad van Dierebeskermingsverenigings) twee teenstrydige sienings aangaande die Nasionale Raad van Dierebeskermingsverenigings bevat. Die eerste is as 'n "sambreelorganisasie" wat die belange van sy lede verteenwoordig – outonome individuele dierebeskermingsverenigings. Die tweede is as 'n "regulatoriese afdwingingsliggaam" oor daardie individuele dierebeskermingsverenigings. Daardie twee benaderings is onversoenbaar. Dit word uitgelig deur verskeie onlangse voorbeelde van höeprofiellitigasie wat individuele verenigings teenoor die Nasionale Raad van Dierebeskermingsverenigings stel. Hierdie gevalle illustreer ook hoe hierdie teenstrydighede lei tot kommer dat die regulatoriese afdwingingsbevoegdhede van die Nasionale Raad van Dierebeskermingsverenigings nie te goeder trou uitgevoer word nie. Byvoorbeeld, 'n onlangse saak het behels dat die Nasionale Raad van Dierebeskermingsverenigings sy regulatoriese afdwingingsbevoegdhede na bewering misbruik het om die samestelling te bepaal van sy eie algemene jaarvergadering waar kontroversiële besluite bespreek is wat nie deur die Nasionale Raad van Dierebeskermingsverenigings se leierskap ondersteun is nie. Hierdie probleem word vererger deur die teenstrydige bepalings in die wet oor befondsing en funksies. Dit lei tot 'n strukturele belangebotsing aangaande die manier wat die Nasionale Raad van Dierebeskermingsverenigings sy regulatoriese afdwingingspligte uitvoer – dit kan byvoorbeeld finansieel baat by die beperking van die aantal verenigings wat geregistreer kan word, sowel as die sluiting van sommige van die verenigings.Ek stel voor dat wetshervorming die beste manier is om hierdie teenstrydighede aan te spreek. Ek stel verder voor dat die Nasionale Raad van Dierebeskermingsverenigings se regulatoriese afdwingingsbevoegdhede oor individuele verenigings geskrap moet word. In plaas daarvan behoort die organisasie 'n baie duideliker stel doelwitte te hê – wat insluit om 'n spreekbuis op nasionale vlak vir individuele verenigings te wees, dierewelsynsprobleme van nasionale belang aan te spreek, dierewelsynsdienste te verskaf in dele van Suid-Afrika wat nie deur individuele verenigings bedien word nie en voort te gaan om sy afdwingingsbevoegdhede teen dieremishandeling deur private vervolgings uit te oefen.

  • Judicature: Private Defence or Necessity? The Quaint Case of the Absconding Taxi Driver

    NOODWEER OF NOODTOESTAND? DIE SONDERLINGE GEVAL VAN DIE VOORTVLUGTIGE TAXIBESTUURDERDit staan soos ’n paal bo water dat die norme ons deliktereg – ’n afdeling van die privaatreg wat besonder dikwels in regspraak weerspieël word – so stewig deur talle hofuitsprake gevestig is en deur akademici in handboeke deurtrap is dat die grondbeginsels daarvan, met geringe uitsonderinge, vasstaan. Daar sal gepoog word om aan te toon dat die hof in die saak onder bespreking gevestigde beginsels geïgnoreer het deur die verweer van ’n persoon wat teen ’n onregmatige aanvaller opgetree het en laasgenoemde daardeur benadeel het, as een van noodtoestand in plaas van noodweer te behandel.Die feite het soos volg daar uitgesien: M, ’n veiligheidswag, het vermoed dat die eiser wat met sy taxi die terrein waaroor M toesig gehou het, wou verlaat, ’n gesteelde noodwiel in sy voertuig gehad het. M het die toegangshek toegestoot toe die taxi daardeur wou beweeg en die eiser (bestuurder) vervolgens gevra om dit te deursoek. Toe laasgenoemde hom ignoreer, het M die skuifdeur van die voertuig self oopgemaak en dit bestyg. Terwyl hy nog staande agter die bestuurdersitplek was, het die eiser skielik wild weggetrek, die kantspieël en skuifdeur teen ’n hekpaal afgery en teen hoë spoed voortgesnel terwyl hy sy voertuig heen en weer geswaai het in ’n poging om M by die deur te laat uitval. M se pleidooie dat hy moes stilhou, is in die wind geslaan en M het vir sy lewe gevrees. Daarop het M sy dienspistool aan die eiser getoon en uiteindelik ’n skoot deur die oop deur afgetrek, sonder enige effek. Ten einde raad het M die eiser toe in die been verwond, wat laasgenoemde gedwing het om sy voertuig tot stilstand te bring. Daarop het die eiser op grond van sy beserings in die streekhof vergoeding van M se werkgewer gevorder. Sy vordering is van die hand gewys omdat die landdros beslis het dat M in noodtoestand opgetree het, ofskoon laasgenoemde die regverdigingsgrond van noodweer gepleit het. Die eiser se appèl na die hooggeregshof het misluk, omdat die hof dit eens was met die streeklanddros se bevinding dat noodtoestand die toepaslike regverdigingsgrond was.Daar word aan die hand gedoen dat die feitestel geen voorbeeld van die verweer van noodtoestand weerspieël nie, dog een van noodweer (soos inderdaad aanvanklik namens M gepleit). Die hoofkenmerk van ’n noodweershandeling, te wete ’n onregmatige aanval deur die eiser op M, was duidelik hier aanwesig, terwyl die hoofkenmerk van ’n noodtoestandshandeling, naamlik dat die benadeelde ’n onbetrokke (onskuldige) derde moet wees, afwesig was. Hierdie kenmerke word wyd in die regspraak en handboeke weergegee. ’n Aansienlike gedeelte van die uitspraak – waarin die hof aangedui het waarom die landdros nie fouteer het nie deur die uitspraak volgens die beginsels van noodtoestand te lewer, ofskoon die verweerder noodweer gepleit het – was dus streng gesproke onnodig.Nieteenstaande die hof se verwarring betreffende die aanwending van die korrekte regverdigingsgrond, is die bevinding te verwelkom dat M se handeling regmatig was en die eiser derhalwe in sy vordering moes misluk. Dit ly geen twyfel nie dat M se gedrag ingevolge die boni mores (ofte wel die regsoortuiging van die gemeenskap) – die erkende toets vir onregmatigheid – redelik en derhalwe regmatig was.

  • Comment: Fiduciary Duties of Spouses Married in Community of Property

    FIDUSIÊRE PLIGTE VAN GADES GETROUD BINNE GEMEENSKAP VAN GOEDEREFidusiêre pligte word normaalweg van regsweë opgelê aan 'n persoon wat in 'n posisie geplaas is om regshandelinge aan te gaan namens 'n ander persoon of wat ʼn ander persoon se regte namens daardie persoon kan aantas. Dit is om kwesbare persone te beskerm teen magsmisbruik. Daar is nie 'n beperkte lys van sulke verhoudings nie.Een so 'n kwesbare verhouding is die huwelik binne gemeenskap van goedere, waar die eggenotes belangrike transaksies kan aangaan sonder toestemming van die ander gade, wat selfs kan lei tot sekwestrasie van albei eggenote. Tradisioneel het die maritale mag van die man verhoed dat fidusiêre pligte aan hom opgelê kon word insluitende die lewering van ʼn rekening.Die maritale mag is ten dele afgeskaf deur die Wet op Huweliksgoedere 88 van 1984 en ten volle in 1993 deur 'n wetswysiging. Die wet sluit nie die toedigting van fidusiêre verpligtinge uit nie. Nou is daar geen rede wat verhinder dat fidusiêre verpligtinge opgelê word aan sodanige gades nie.Die tradisionele vorms van regshulp om misbruik van mag te beveg soos die actio Pauliana utilis, die lig van die korporatiewe sluier of die ignorering van 'n trust se afsonderlikheid is onvoldoende om magsmisbruik behoorlik te bekamp omdat kwade bedoelings bewys moet word, wat dikwels te moeilik is.Fidusiêre pligte is broodnodig om te verhoed dat 'n gade inkomste weerhou van die gesamentlike boedel deur dit in 'n trust te plaas of aan 'n buitestander toe te vertrou en ook om gades tot 'n mate te beskerm teen roekelose transaksies aangegaan deur die ander gade op eie houtjie.Die vraag moet nie wees of daar kwade bedoelings was nie maar eerder of die gedrag die verwesenliking van die huweliksbedeling belemmer het.Die fidusiêre plig van lewering van 'n rekening en debattering daarvan is noodsaaklik om te help om te bepaal of daar misbruik van mag was en om die volle waarde van die gesamentlike boedel behoorlik te bepaal.Indien fidusiêre pligte toegereken word aan sodanige huweliksgenote is wetswysiging om bogemelde leemtes aan te vul onnodig.

  • Comment: An Update of Recent Labour Law Developments from South African Courts 2025

Featured documents