S v Leeuw

JurisdictionSouth Africa
JudgeNienaber AR
Judgment Date27 November 1997
Docket Number14/95 & 13/95
CourtAppellate Division
Hearing Date14 November 1997
Citation1998 JDR 0082 (AD)

Nienaber AR:

Die oorledene, 'n 78-jarige weduwee en 'n invalide, het saam met haar dogter alleen in 'n huis in Universitas, Bloemfontein, gewoon. Op Vrydag 25 Maart 1994 is sy wreed vermoor. Die appellant is as beskuldigde 1 deur Malherbe R en twee assessore in die Oranje-Vrystaatse Provinsiale Afdeling aan die moord skuldig bevind. So ook sy twee mede-beskuldigdes. Daarbenewens is beskuldigde 2 aan roof en die appellant en beskuldigde 3 aan poging tot roof skuldig bevind, telkens met verswarende omstandighede. Op die moordklagte is die appellant ter dood veroordeel en op die roofklagte tot 12 jaar gevangenisstraf gevonnis. Sy twee mede-beskuldigdes is verskillende tydperke van gevangenisstraf opgelê. Wat tans voor ons dien, is die appellant se appèl teen sy skuldigbevinding op beide klagtes: teen die skuldigbevinding en vonnis op die moordklagte uit hoofde van art 316A van die Strafproseswet, 1977; teen die skuldigbevinding en vonnis op die roofklagte uit hoofde van verlof wat deur hierdie hof aan hom toegestaan is.

1998 JDR 0082 p3

Nienaber AR

Die oorledene se dogter is die betrokke Vrydag oudergewoonte vroegoggend werk toe. By haar tuiskoms later die middag tref sy die oorledene se lyk op die vloer in die spaar slaapkamer aan. Die oorledene se gesig was met 'n handdoek toegedraai wat deur haar mond getrek en so styf bokant of agter haar kop vasgeknoop was dat dit haar mond heeltemal skeef getrek het. In haar mondholte was 'n vadoek ingeforseer wat 'n totale afsluiting van die lugweë tot gevolg gehad het. Haar twee polse was met 'n hessian-tou en die koord van 'n bedlamp styf oorkruis vasgebind. Daar was, blykens die geneeskundige verslag van die lykskouing, swelling en verkleuring van haar bo- en voorarms en verkleuring en 'onderhuidse bloeding van veral die ooglede met swelling en subkonjunktivale bloedings en endeem' wat volgens die mediese getuienis met meerdere harde vuishoue vereenselwigbaar was. Haar regter hioïdbeen is na binne gebreek wat weer op verwurging gedui het. In die regsgeneeskundige verslag oor die lykskouing word die oorsaak van dood deur dr Wagner, die staatspatoloog, soos volg omskryf:

'Toepassing van stompgeweld om die nek met 'n vreemde voorwerp in die

1998 JDR 0082 p4

Nienaber AR

mondholte en akute asemnood.'

Die 'finale meganisme van dood', so getuig dr Wagner, 'is die akute asemnood wat veroorsaak was deur hierdie vreemde voorwerp wat styf in die mondholte ingedruk was.' In leketaal uitgedruk, sy is eers hardhandig aangerand en gewurg voordat sy uiteindelik, so ongeveer vier tot vyf minute nadat die lugweë afgesluit is, versmoor het.

Later die aand, toe die oorledene se dogter met haar motor wou ry om elders slaapplek te kry, ontdek sy dat die sleutels van die motorhuis en van haar motor wat gewoonlik aan een sleutelhouer op 'n hak in die gang gehang het, soek was. Origens het sy ook 'n damesring vermis. Twee kiste in haar kamer was oopgebreek.

Die appellant, destyds 31 jaar oud, het voorheen verf- en ander los werkies vir die oorledene by haar huis gedoen. Dit is gemene saak dat hy die dag voor die gebeure, Donderdag 24 Maart 1994, by oorledene aangedoen het en dat sy met hom gereël het dat hy die volgende dag sekere herstelwerk aan die buitekamer en die dak van die huis sou kom doen. Volgens die appellant

1998 JDR 0082 p5

Nienaber AR

het die oorledene hom versoek om twee helpers saam te bring - wat hy gedoen het. Dié twee was beskuldigdes 2 en 3. Beskuldigde 2 was sy susterskind, toe kwalik 17 jaar oud, en beskuldigde 3, sy swaer, 29.

Die appellant se weergawe in hoofgetuienis is soos volg:

'Toe ons by die oorledene se plek kom die Vrydag het ek by die kombuisdeur geklop. Die ou vrou het gekom. Sy het vir my die deur oopgemaak, ek het na binne gegaan. Ek sê toe vir haar dat ek met die twee persone gekom het wat sy my gevra het om te bring om die concrete te gooi. Sy sê toe vir my dat sy nie die concrete kon koop nie maar sy het 'n klein stuk werk wat sy gehad het vir my daar by die huis. Maar dit was nie vir my nodig het sy gesê om die werk saam met ander mense te doen nie. Sy vra my toe om die mense te sê hulle moet saam met my weer die Maandag terugkeer. Sy sê toe ek moet geld vat om die verseëler te koop sowel as die lap vir die dak. Ek is toe saam met beskuldigdes 2 en 3 na die betrokke plek. 'n Ent van daar af het hulle hulle eie rigting geneem. Toe is ek na die winkel om die verf te koop. Ek het teruggekeer nadat ek die verf gekoop het wat ek toe aan die ou miesies getoon het. Ek het die leer uit die motorhuis uitgehaal, trapleer Edele. Toe klim ek bo-op die dak waar ek die dak verseël het. Daarna het ek kolletjies toegemaak teen die mure van die huis in die binnekant met die verf Edele. Om twaalfuur was ek klaar met die werk. Ek het die goedere bymekaar gemaak en gebêre en die vertrekke se sleutels daar gehang.

HOF: Die vertrekke? -- Ja. Die ou vrou het my toe die helfte van die geld gegee. Sy het gesê dat ek die res die Maandag sou kry.

1998 JDR 0082 p6

Nienaber AR

MNR SNYMAN: Goed hoeveel het sy u gegee? -- Sy het my R20,00 gegee. Toe ek sou gaan het sy gesê ek moet eers na die posbus gaan kyk of die koerant daar was. Ek het toe die koerant aan haar oorhandig. Ek vra toe vir haar terwyl sy in die sitkamer was vra ek vir haar ou miesies kom maak die deur asseblief toe want ek loop. Die ou miesies sê toe ek kon gaan maar ek moet onthou om die Maandag terug te keer. Dit is al Edele, ek is toe weg.'

Die appellant se weergawe kom dus in hoofsaak daarop neer dat hy beskuldigdes 2 en 3 op pad na die winkel vaarwel toegesê het. Alleen is hy terug na die oorledene se huis waar hy die werk klaargemaak het wat sy hom opgedra het, waarna hy al die sleutels, behalwe die sleutels vir die motorhuis en die motor, op hul bestemde plek gebêre en die oorledene gevra het om die kombuisdeur agter hom te sluit. Die sleutels wat hy in die gang opgehang het, was almal in sy broeksak. Die motorhuis en motor se sleutels, so beweer hy, het hy per abuis in sy baadjie se binnesak vergeet. Twee dae later toe hy gearresteer is, het hy dit aan die polisiebeamptes verduidelik. Adj-offisier De la Rey bevestig die verduideliking. Volgens die appellant het hy die sleutels wat nog steeds in sy baadjie se binnesak was, aan konst Mphirime oorhandig.

1998 JDR 0082 p7

Nienaber AR

Dié verduideliking ontken De la Rey egter: volgens hom was die sleutels wat in 'n kartondoos onder die bed versteek was, aan hom oorhandig. Mphirime, ofskoon hy getuig het, is nie daarna gevra nie. Ek verwys later weer na dié twispunt.

Beskuldigdes 2 en 3 vertel 'n gans ander storie. Aldrie van hulle was daarvolgens direk by die aanval op die oorledene betrokke. Beskuldigde 3 het trouens skuldig gepleit aan strafbare manslag en roof, kompleet met 'n formele pleitverduideliking. Dié pleit was die staat egter nie bereid om te aanvaar nie. Albei die appellant se mede-beskuldigdes het uitwysings aan die polisie gedoen, die toelaatbaarheid waarvan nie in geskil geplaas is nie, en albei het in die verhoor getuig waartydens hulle die appellant lynreg geïmpliseer het.

Daar is verskille in hul onderskeie weergawes oor wat presies gebeur het en wat elkeen presies gedoen het maar in breë trekke kom hul weergawes daarop neer dat die appellant vooraf - oor presies wanneer is daar 'n geskil - aan hulle genoem het dat hulle die oorledene die Vrydag moes gaan beroof aangesien hy geweet het waar sy haar geld bêre. By die oorledene se woonplek

1998 JDR 0082 p8

Nienaber AR

aangekom, is hulle eers saam met hom winkel toe om verfseëlaar te gaan koop waarna hy hulle by hul terugkeer in die buitekamer toegesluit het. Die rede, volgens beide van hulle, was dat die tuinhulp hulle nie op die perseel moes aantref indien hy die dag dalk daar sou opdaag nie. Dit is op dié punt, waar die appellant se storie aan die hof eindig (toe hy die oorledene vanuit die kombuis geroep het en gesê het hy loop nou, sy moet kom toesluit), waar beskuldigdes 2 en 3 se stories eintlik begin. Volgens beide van hulle het die appellant vooraf vir hulle gesê waar om in die kombuis stelling in te neem en wat om te doen wanneer hy die oorledene na die kombuis lok. Toe die oorledene die kombuis binnekom nadat die appellant haar geroep het en sy beskuldigde 3 sien, gil sy. Beskuldigde 3 gryp haar van agter en druk haar mond met sy hand toe terwyl beskuldigde 2 'n handdoek oor haar kop trek sodat sy die appellant nie sou herken nie. Op daardie stadium was die appellant nog buite sig. Nadat beskuldigdes 2 en 3 die oorledene oorrompel het, het die appellant 'n doek (beskuldigde 2 noem dit 'n vadoek, dr Wagner 'n waslap) in haar mond gedruk om haar stil te kry. Volgens beskuldigde 2 het die oorledene die appellant gebyt

1998 JDR 0082 p9

Nienaber AR

en haar tande gekners toe hy die vadoek in haar mond probeer indruk het. Dit is dié dat hy haar met die vuis bygedam het. Dié getuienis strook met die mediese getuienis oor die aard van die beserings wat sy opgedoen het. Haar arms is met goiing-tou vasgebind - volgens beskuldigde 2 deur die appellant, volgens beskuldigde 3 deur beskuldigde 2. Albei is dit eens dat die appellant opdrag gegee het dat die oorledene in haar rystoel na die spaar slaapkamer gestoot moes word. Toe sy haar daar uit die toue begin loswikkel, is haar hande opnuut met die koord van 'n lampie styf vasgebind. Volgens albei van hulle het dit op appellant se aandrang en met sy medewerking geskied. Op die een of ander manier het sy op die vloer beland. Daarna, en in opdrag van die appellant, so getuig albei, het hulle in die huis na geld begin soek waartydens hulle twee kiste oopgebreek het. Beskuldigde 2 het 'n ring in 'n laai gekry wat hy later aan ene Joyce Tshetlo vir R20 verkoop het. Toe die twee van hulle agterkom dat die appellant nie meer aanwesig was nie, is hulle ook vort. Op daardie stadium, so getuig beskuldigde 2, het hy gemeen dat die oorledene nog lewe.

1998 JDR 0082 p10

Nienaber AR

Die appellant se twee mede-beskuldigdes...

To continue reading

Request your trial

VLEX uses login cookies to provide you with a better browsing experience. If you click on 'Accept' or continue browsing this site we consider that you accept our cookie policy. ACCEPT