S v Clifford

JurisdictionSouth Africa
JudgeKroon J
Judgment Date03 March 2009
Docket NumberCC62/04
CourtSouth Eastern Cape Local Division

Kroon R:

[1] Mev Bosch, mev Conway, mev van Rooyen, mnr Terblanche en mnr Visagie, julle is elk op 'n aanklag van bedrog skuldig bevind. U, mev Bosch, is ook aan diefstal skuldig bevind. Dit is nou my taak om op gepaste vonnisse wat julle opgelê moet word, te besluit. Oorweging moet aan al die tersaaklike omstandighede gegee word, sommige waarvan in jul guns tel, en ander wat dan verswarend inwerk. Aan die einde van die dag moet ek 'n billike balans tussen hulle probeer opmaak. Vanselfsprekend is die taak 'n onbenybare een en ek moet onmiddelik beken dat dit my werklike hoofbrekens besorg het.

2009 JDR 0154 p2

Kroon R

[2] Soos in die hoofuitspraak gekonstateer ressorteer die skuldigbevinding aan bedrog onder die toepaslike bepalings van Wet 105 van 1997 ("Wet 105"). A 51 van hierdie Wet maak voorsiening vir 'n verpligte minimum vonnis behalwe waar bepaalde omstandighede teenwoordig is. Ek sal later breedvoerig met hierdie aspek handel. Op hierdie stadium maak ek die volgende algemene opmerkings oor die Hof se banadering tot die vasstelling van 'n gepaste vonnis.

[3] Die geykte benadering is om drie breë oorwegings in ag te neem, naamlik die welbekende triade (in S v Zinn 1969 (2) SA 537 (A) op 540G na verwys) van die aard van die misdrywe gepleeg, die belange van die gemeenskap en die veroordeelde as persoon, in die besonder sy of haar persoonlike omstandighede. Sorg moet aan die dag gelê word dat geen van die oorwegings oorbeklemtoon word tot die ongeregverdigde nadeel van die ander nie. Ook moet die Hof, by die vasstelling van die vonnis, 'n insigryke begrip vir die veroordeelde se menslike swakhede toon, asook enige ander relevante versagtende omstandigheid, en hulle teen die boosheid van die daad wat bestraf moet word, weeg. Soos dit in S v Dzukuda and Others; S v Tshilo 2000 (2) SACR 443 (CC) para [12] gestel is:

"More particularly, in relation to sentencing in the context of the present case, it seems to me that what the right to a fair trial requires, amongst other things, is a procedure which does not prevent any factor which is

2009 JDR 0154 p3

Kroon R

relevant to the sentencing process and which could have a mitigating effect on the punishment to be imposed, from being considered by the sentencing court. ....."

[4] Tot die mengsel moet 'n verdere bestanddeel bygevoeg word, dié van genade, die mate waarvan van die omstandighede van die besondere saak afhang. In hierdie verband kan die volgende gewysdes na verwys word. In S v V 1972 (3) SA 611 (A) op 614D het Holmes AR hom soos volg uitgelaat:

"Punishment should fit the criminal as well as the crime, be fair to the accused and to society, and be blended with a measure of mercy; see S v Sparks and Steytler (A.D., 18 May 1972). The element of mercy, a hallmark of civilised and enlightened administration, should not be overlooked, lest the Court be in danger of reducing itself to the plane of the criminal; compare the remarks in S v De Bruyn en 'n Ander, 1968 (4) S.A. 498 (A.D.) at p 513D. True mercy has nothing in common with soft weakness, or maudlin sympathy for the criminal, or permissive tolerance. It is an element of justice itself. As was said by this Court in S v Harrison, 1970 (3) S.A. 684 (A.D.) at p 686A: "Justice must be done; but mercy, not a sledge-hammer, is its concomitant."

In S v Groenemeyer 1974 (2) SA 542 (K) op 544A-B verskyn die volgende:

2009 JDR 0154 p4

Kroon R

"Die howe is nie hier om wraak te neem nie..... Die hof het genade ..... vir elke persoon wat voor hom verskyn. Daar kan geen geregtigheid wees sonder genade nie."

In S v Sidyno 2001 (2) SACR 613 (T) op 615h word weer eens beklemtoon dat straf deur genade getemper word sodat voorkom word dat 'n veroordeelde se hele toekoms met 'n voorhamer vergruis word.

[5] Straftoemeting het verskeie fasette of oogmerke waarby ingesluit afskrikking en voorkoming, rehabilitasie en hervorming, en, in gepaste gevalle, vergelding. Weer eens moet gewaak word teen die oorbeklemtoning van een element tot die ongeregverdigde nadeel van 'n ander. Daar is gesag vir die stelling dat afskrikking histories die mees belangrikste aspek van straftoemeting is. S v Khumalo 1984 (3) SA 327 (A); R v Karg 1961 (1) SA 231 (A). Afskrikking kan algemeen wees (dws op die algemene publiek gerig) of individueel (dws op die veroordeelde gerig). Die mate waarin erkenning aan hierdie element verleen word, moet egter van die omstandighede van die besondere saak afhang, en daarenteen kan genoem word dat die tendens in die jongste tyd al toenemend eerder is om die elemente van rehabilitasie en hervorming op die voorgrond te plaas. In Sidyno op 615f is ook, met verwysing na die doelwit dat straf tot die voorkoming van misdaad moet bydra, uitgewys dat 'n gevaarlike misdadiger van die gemeenskap weggehou moet word en dat ander voornemende misdadigers afgeskrik moet word, maar dat uiteraard aan hierdie doelwit

2009 JDR 0154 p5

Kroon R

perke gestel word; 'n mens mag nie gestraf word bloot ter wille van die effek wat dit op ander mag hê nie. Soos dit meermale in ander sake gestel is: die veroordeelde moet nie op die altar van afskrikking opgeoffer word nie. Kyk bv S v Webster 2007 (1) SACR 672 (E) para [9]. Die element van vergelding geniet deesdae nie die belang van vroeër jare nie en is dit in 'n groot mate op die agtergrond geskuif. Waar gepas moet dit egter 'n mate van erkenning geniet, onderhewig daaraan dat, soos in Sidyno op 615d uitgewys is, onthou moet word dat vergelding nie op gewone wraak moet neerkom nie en dat dit essensieel beteken dat die straf verband moet hou en gebalanseer moet word met die erns en aard van die misdryf wat gepleeg is. 'n Aansluitende oorweging is die plig van die Hof om te sorg dat die vonnis opgelê die geregverdigde, maar behoorlik ingeligte, verontwaardiging van regdenkende lede van die gemeenskap jeens die misdrywe gepleeg, weerspieël, om te verhoed dat die regspleging in diskrediet verval. Karg op 236B. In hierdie verband moet egter weer eens daarteen gewaak word dat die openbare mening slaafs nagevolg word; die Hof moet eerder die voortou neem en die openbare mening leiding gee. Hy is nie daar om die openbare mening te bevredig nie maar om die openbare belang na te streef. S v Mhlakaza and Another 1997 (1) SACR 515 (SCA) op 518e.

[6] Die volgende vonnisopsies was tydens argument die onderwerp van debat:

(a)

'n boete, met die alternatief van gevangenisstraf;

2009 JDR 0154 p6

Kroon R

(b)

gevangenisstraf, insluitende gevangenissetting wat óf in sy geheel óf gedeeltelik op gepaste voorwaardes opgeskort word;

(c)

gevangenisstraf ingevolge die bepalings van a 276(1)(i) van die Strafproseswet 51 van 1977;

(d)

'n gemeenskapsgebaseerde vonnis in die vorm van korrektiewe toesig ingevolge a 276(1)(h) van die Strafproseswet wat gemeenskapsdiens, huisarres, opgeskorte gevangenisstraf en ander voorwaardes kan behels. (Kyk a 52 (1) van die Wet op Korrektiewe Dienste 111 van 1998).

[7] Ingevolge a 51(5) van Wet 105 waar 'n hof 'n minimum vonnis soos in a 51 beoog oplê is hy nie by magte om die vonnis, of 'n gedeelte daarvan, op te skort nie (met uitsonderings wat nie huidig van toepassing is nie). Aan die ander kant is opskorting wel geoorloof waar vanweë die teenwoordigheid van die vereiste omstandighede 'n mindere vonnis opgelê word.

[8] Ingevolge a 276(3) van die Strafproseswet, soos huidig bewoord, kan die hof nie 'n vonnis ingevolge óf a 276(1)(h) óf 276(1)(i) oplê waar a 51 van Wet 105 'n minimum vonnis voorskryf nie. Die betrokke bewoording is egter by wyse van 'n wysiging deur a 5 van Wet 22 van 2005 ingevoer wat op 11 Januarie 2006 in werking getree het. Die wysiging is derhalwe nie van toepassing in die huidige saak wat oor 'n misdryf in 2000 gepleeg gaan nie.

2009 JDR 0154 p7

Kroon R

Vgl S v Willemse 1999 (1) SACR 450 (C) op 454a-b en S v Erasmus 1999 (1) SACR 93 (SE) op 98b, waar bevind is dat a 51 nie terugwerkende krag het nie en is dus nie van toepassing op oortredings gepleeg voor die inwerkingtreding van die Wet. Kyk ook a 35(3)(n) van die Grondwet.

[9] Die eerste opsie vroeër gemeld, die oplê van 'n boete kan onmiddelik buite rekening gelaat word. Ek volstaan deur op te merk dat ek geen twyfel het dat 'n boetevonnis geensins van pas sou wees nie en dit is ook nie ernstig deur enige van die regsverteenwoordigers bepleit nie.

[10] Dieselfde opmerkings geld ten opsigte van gevangenisstraf wat in sy geheel opgeskort word.

[11] Gevangenisstraf, wat ten minste hoofsaaklik direkte gevangenissetting behels, het noukeurige aandag geniet tydens beide getuienislewering asook die betoë op vonnis.

[12] Dit staan vas dat menige gevalle voor die howe dien waar wat ookal die persoonlike omstandighede van die veroordeelde mag wees en welke versagtende omstandighede ookal teenwoordig mag wees, die aard en erns van die misdryf gepleeg en die belange van die gemeenskap dikteer dat die oplegging van direkte gevangenisstraf eenvoudig nie vermybaar is nie. In die geval van ernstige misdrywe verdien die gemeenskap se gevoel van vergryp en die doelwit van afskrikking aansienlike klem en dit is daardie

2009 JDR 0154 p8

Kroon R

doel waarop gevangenisstraf in hoofsaak gemik is. Derhalwe, ondanks die kommentaar in die opvolgende paragrawe hieronder, behoort die hof nie die moontlikheid van gevangenisstraf as vonnisopsie in 'n gegewe geval op oppervlakkerige wyse uitsluit nie. S v Swart 2004 (2) SACR 370 (SCA) para [14].

[13] 'n Magdom van getuienis, wat tydens betoog ingeroep is, is aan my voorgelê betreffende die aard en effek van gevangenisstraf. Vanselfsprekend het gevangenissetting 'n geweldige impak op die persoon wat dit opgelê word. Vandaar die houding dat strafbeleid bepaal dat gevangenisstraf spaarsaam en oordeelkundig op besluit moet word, dat dit as 'n laaste uitweg beskou moet word en gereserveer word tot gevalle waar daar werklik geen ander rasionele alternatief is nie. (Kyk bv S v Scheepers 1997 (2) SA 154 (A)). Die redes daarvoor...

To continue reading

Request your trial
1 practice notes
  • 2012 index
    • South Africa
    • South African Criminal Law Journal No. , August 2019
    • 16 August 2019
    ...188-189S v Chabalala 2003 (1) SACR 134 (SCA) ............................................. 147S v Clifford 2009 JDR 0154 (SE) ................................................... 107, 109-110S v Cloete 2012 JDR 0279 (SCA) .......................................................... 401-403S v ......
1 books & journal articles
  • 2012 index
    • South Africa
    • South African Criminal Law Journal No. , August 2019
    • 16 August 2019
    ...188-189S v Chabalala 2003 (1) SACR 134 (SCA) ............................................. 147S v Clifford 2009 JDR 0154 (SE) ................................................... 107, 109-110S v Cloete 2012 JDR 0279 (SCA) .......................................................... 401-403S v ......

VLEX uses login cookies to provide you with a better browsing experience. If you click on 'Accept' or continue browsing this site we consider that you accept our cookie policy. ACCEPT